Imogen Campbell
 
Aan sy seun sal Ek een stam gee, sodat daar altyd 'n lamp vir Dawid, my dienskneg, voor My sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek vir My gekies het om my Naam daar te vestig. 1 Konings 11:36, 2020-vertaling
 
Die ding met Jerusalem is die volgende: God het dit spesifiek gekies om belangrik te wees – 'n plek om sy Naam te vestig. Verder, die Prins van Vrede is daar doodgemaak, begrawe en weer uit die dood opgestaan. Jesus het van die Olyfberg opgevaar na die hemel en met sy wederkoms sal Hy weer daarheen terugkeer.
 
David Pawson skryf in sy boek "Unlocking the Bible" (vrye vertaling): “Intussen het koning Dawid van Israel Jerusalem as sy hoofstad gevestig. ... Dit was egter die stad van God, die plek waar Hy sy Naam gevestig en gekies het om onder sy volk te woon ... later in die tempel wat Salomo gebou het."
 
Die Kerk het ook sy wortels in Jerusalem. Die belangrikheid van dié stad is ongeëwenaard. In "Finding Messiah" skryf Jennifer M Rose (vrye vertaling): "Hierdie stigters van die Christendom het in die tempel in Jerusalem aanbid, tydens die Loofhuttefees in hutte gewoon, en die wette van die Tora onderhou. Hulle was toegewyd aan die Joodse geloof en hierdie konteks het die apostels se begrip van wie Jesus is beïnvloed en wat dit sou behels om Hom te volg."
 
Verder skryf sy oor Israel die volgende: "Dit het my diep getref dat hierdie plek die enigste plek op aarde was wat God deur mensoë gesien het en waar Hy met mensvoete geloop het."
 
Hierdie ongelooflike stad is deel van God se toekomsplan voordat vrede (shalom) uiteindelik herstel sal word. Dit is dus geen wonder dat Jerusalem steeds die harte van mans en vroue inspireer nie – en dat geen ander stad nog ooit so vereer is nie.
 
In "Jerusalem" – deesdae amper die alternatiewe Engelse volkslied – delf die digter, William Blake – miskien onwetend – in die mens se diep verlange na alles wat God se Jerusalem verteenwoordig. "And did those feet in ancient time walk upon England’s mountains green: And was the holy Lamb of God, on England’s pleasant pastures seen! … I will not cease from mental fight, nor shall my sword sleep in my hand, till we have built Jerusalem in England's green and pleasant Land."
 
Interessant, die swaard maak ook hier sy verskyning. Vrede blyk na alles tog die moeite werd te wees om voor te veg.Jerusalem het reeds 'n deurslaggewende rol in die geskiedenis van die mensdom vertolk, maar profeties sal dit dit weer doen.
 
Gebed: Here, ons bid vir Jerusalem, die stad wat vir U so belangrik is. Gee dat u vrede, selfs in hierdie onstuimige tye, in die harte van die mense van daardie streek sal heers. Amen