Imogen Campbell
 
Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” Handelinge 1:10-11, 1983-vertaling
 
Hierdie verse is, volgens my, heel moontlik een van die mees onderskatte gedeeltes in die Bybel. Die twee mans, waarskynlik engele, verskyn sonder enige ophef – dit is slegs 'n feitelike weergawe van wat plaasgevind het na Jesus se hemelvaart. Ek wens hulle het meer besonderhede vir vandag se gehoor verskaf. Die dissipels was bevoorreg om verskeie kere engele te ontmoet.
 
Nie lank voor hierdie gebeure het daar ook 'n engel verskyn wat die Romeinse wagte baie bang en soos dooies gelaat het. Soos die meeste gevalle wanneer 'n engel aan mense verskyn, was die eerste ding wat die engel vir die vroue wat Jesus se graf kom besoek het, gesê het: "Julle moet nie bang wees nie."
 
"Skielik was daar 'n geweldige aardbewing. 'n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword. Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is." (Matteus 28:2-5)
 
As 'n vlietende ontmoeting met 'n engel so angswekkend is, kan jy jou voorstel hoe dit gaan wees om eendag God in persoon te ontmoet?. Die Engelse uitdrukking "mind blowing" kom nie naby nie en onderskat dit heeltemal. Maar voor ons daardie voorreg kan geniet om in die teenwoordigheid van die heilige God te wees, moet ons volkome aan Hom toegewy wees en op 'n manier leef wat Hom behaag. "Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie." (Hebreërs 12:14)
 
Hoe kan ons dit doen? Voor daardie dag dat almal sal sien hoe Jesus op die wolke verskyn, het ons 'n wedloop om te hardloop. Intussen moet ons ons oë oophou en op Jesus se Woord bly fokus. Die prentjie wat ek in my gedagte het is een van dissipels wat so naby aan Jesus is dat hulle nêrens anders kan kyk nie. Ware dissipels fokus op Jesus en volg Hom waar Hy ons ook al lei. "... en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God." (Hebreërs 12:1b-2)
 
Verder word ons ook vermaan om op te kyk en ons oë op ons Skepper te rig. "Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het." (Psalm 121:1-2)
 
Daarom, wanneer ons moeilike tye beleef, is dit beter om op te kyk, ons oë gerig op Jesus. Om mee te begin, moet ons fokus op die Een wat kan help en in wie ons, te midde van al ons probleme, vrede (shalom) kan vind.
 
Gebed: Here, dankie dat ons te alle tye kan opkyk na U vir hulp. Ons prys U dat Jesus die angel van die dood wat oor ons hang reeds oorwin het, en aan ons die ewige lewe gee. Amen