Wysheid en insig: Leer ken God beter - 9 April 2025
Charlea Grey
As jy luister na my, dan sal jy verstaan wat dit is om reg te lewe en reg te doen en regverdig te wees, jy sal altyd op die regte pad loop en die regte dinge doen. Spreuke 2:9, Bybel vir almal
Aan die begin van die tweede hoofstuk van Spreuke word die vraag gevra: “My seun, hoe sal jy God leer ken?” 'n Breedvoerige antwoord volg daarna. Soos ek dit verstaan, kom dit daarop neer dat as jy na wysheid luister en dit werklik probeer verstaan, en dit voortdurend uitsoek en najaag, dán sal jy God beter leer ken en verstaan hoe om die Here te dien.
Ek dink dit gaan daaroor dat as ons aanhou om na die regte manier van doen en optree te soek, ons God se verwagtinge en wil vir ons elkeen se lewe ook beter sal verstaan. En dink daaraan, as jy leef soos God vra dat jy moet leef, beweeg jy onmiddellik nader aan Hom en gaan jy sy hart beter leer ken, sy liefde dieper ervaar.
Wanneer ons Hom beter ken en nader aan Hom leef, gaan ons nie anders kan as om Hom op die regte manier te dien nie – deur ons optrede, deur ons menswees en die lewe wat ons hier op aarde leef. Dan is ons meer oop vir die goeie leiding wat Hy bied en help Hy ons eindelik om die lewe met ware insig aan te pak.
Die idee hiervan is eintlik so bevrydend. Om te weet 'n lewe nader aan God, beteken ook 'n lewe met duidelike leiding en insig. Ek weet 'n lewe naby aan God beteken nie dat alles maklik is of altyd reg loop nie. Dit beteken nie dat jy nooit slegte dinge en hartseer moet trotseer nie. Maar om God beter te ken en nader aan Hom te leef, beteken beslis dat jy nie alleen die lewe se raaisels hoef te ontrafel nie en jy hoef nie die moeilike tye alleen aan te durf nie.
Gebed: Here, help my om na u Woord te draai sodat ek voortdurend na U kan soek, U beter kan leer ken en met wysheid, insig en u leiding, die lewe kan aanpak. Amen.