Wysheid en insig: Dis als daar - 8 April 2025
Charlea Grey
Julle moet weer kom luister na wat ek vir julle wil leer. Ek sal vir julle alles sê wat ek weet, ek sal julle help om te verstaan wat ek sê. Spreuke 1:23, Bybel vir almal
My dogtertjie, wat oor 'n paar maande drie word, is gedurig besig om te gesels. En as sy nie gesels nie, dan sing sy enigiets van "Twinkle twinkle little star" tot die onlangse gunsteling "Fishing for Jesus" in die bietjie Engels wat sy kan kwytraak.
Maar die een liedjie wat elke nou en dan in sulke lukrake frases uit die bloute gesing word, is “Dwase man, huis op die sand! Dwase man, huis op die sand!” Ure later, ook uit die bloute, sing sy nog 'n stuk. “Wyse man, huis op die rots! Wyse man, huis op die rots!” Dis basiese woordjies van 'n liedjie wat sy nog nie heeltemal die betekenis van ken nie. Maar dit is so kragtig en waar.
Net so is dit ook met Die Bybel. Dis 'n boek vol verhale, insig, waarhede en raad. As jy die boek Spreuke begin lees, is dit so duidelik – die wysheid is daar. Die waarhede oor die lewe, die wenke en raad oor hoe 'n mens die lewe kan aanpak. Dis daar vir ons elkeen om te lees en ons eie te kan maak. Maar ons aanvaar dit so dikwels as vanselfsprekend en dan neem ons nie genoeg tyd of doen genoeg moeite daarmee nie. Ons kan elkeen gerus meer gereeld daarby gaan stilstaan en dit laat insink en kyk hoe ons dit prakties kan begin uitleef.
Dis soveel meer as net slim of mooi woorde op papier.
Ons is gelukkig. God het vir ons sy Woord gegee. Ons hoef nie sonder wysheid en insig deur die lewe te gaan nie. Dis als klaar daar. Ons moet net tyd maak en dit opnuut gaan ontdek.
Gebed: Here, help my om u Woord opnuut te gaan ontdek en die wysheid en insig wat in die Bybelblaaie opgesluit is, prakties toe te pas in my lewe. Amen.