Wysheid en insig: So stukkie van Salomo - 7 April 2025
Charlea Grey
Spreuke leer vir jou wysheid. Dit leer vir jou om te weet wanneer mense verstandige dinge sê, en dit leer vir jou om te luister wanneer iemand vir jou die regte dinge leer oor wat goed en reg en regverdig is. Spreuke 1:2-3, Bybel vir almal
Ek bid omtrent elke dag vir twee dinge. Elke dag dieselfde twee dinge.
Ja, ek probeer om dankie te sê vir al die seëninge in my lewe en blits ook maar soms deur die lysie in my kop van dinge waarvoor ek wil vra. Maar daar is twee dinge waarvoor ek baie gereeld probeer bid: Insig en wysheid.
Ek vra vir God om vir my die nodige insig en wysheid te gee om elke dag en elke situasie waarin ek myself bevind, so goed moontlik te hanteer.
Dis dalk omdat die verhaal van Salomo my nog altyd gefassineer het – 'n koning met soveel wysheid dat hy selfs in die moeilikste omstandighede geweet het wat om te doen.
Een van die swaarste dinge in die lewe vir my, is om nie te weet wat om te doen nie. Om nie te weet watter keuse of besluit die regte een met die beste uitkoms gaan wees nie. As ek nou moet gaan dieper delf, spruit dit seker maar uit my vrees vir foute maak. Wat eintlik ook so ironies is, want foute is baiekeer die beste leerskool en kan nogal help om eindelik by insig en wysheid uit te kom.
Maar dis eerlikwaar iets waarna ek elke dag probeer streef.
Dis ook die eienskappe wat ek die meeste bewonder. Insig, wat baiekeer ook met begrip en empatie gepaard gaan. En dan wysheid – lewenservaring en daai dieper verstaan van dinge waarvan ek nog nie so baie weet nie.
Ek bewonder kollegas wat weet hoe om moeilike situasies te hanteer en menseverhoudinge eerste stel of risikos kan opweeg en dan 'n berekende besluit kan neem. Ek bewonder vriendinne wat 'n bewustheid oor hulself, hul emosies en hul optrede het, selfs al is dit dalk nie heeltemal reg, regverdig of rasioneel nie.
Ek het intussen besef dat wysheid en insig nooit gaan beteken dat jy nié soms 'n verkeerde besluit gaan neem of 'n fout gaan maak nie. Ons is mos maar almal mense en mense maak helaas gedurig die verkeerde besluite. Almal dink nie noodwendig dieper oor 'n saak, die bedoelings daar agter of aan ander se bedoelings en gevoelens nie. Ons elkeen het 'n beperkte verwysingsraamwerk, ons eie vooroordele gegrond op beperkte ervaring. Ons kan nie alles en almal verstaan nie.
Soms gaan jy insig hê in 'n moeilike situasie. Soms gaan jy 'n wyse besluit neem. Soms glad nie. En dis ook okei. Solank ons aanhou streef. Solank ons aanhou probeer en vra vir God se leiding, elke liewe dag. Insig en wysheid – dis tog nie 'n bestemming nie, maar 'n reis. En ek het 'n sterk vermoede dis langpad se loop.
Gebed: Here, gee asseblief vandag vir my die nodige insig en wysheid om hierdie dag op die beste manier aan te pak. Gee vir my die nodige insig en wysheid om elke situasie wat oor my pad kom, so goed moontlik en na u wil te hanteer. Amen.