Soms word drome waar, soms nie ... - 22 April 2025
Charlea Grey
Mense wat nou hartseer is, is gelukkige mense, want God sal hulle hartseer wegneem. Matteus 5:4, Bybel vir almal
Ons almal het drome. Party van ons het groot drome, ander het doodeenvoudige drome of drome wat ander mense nooit sal kan verstaan nie.
Soms droom ek en my man dat ons die nasionale lotery wen – dan noem ons al die dinge op wat ons met die miljoene rande sal doen. Dit kan 'n baie lekker speletjie wees, mits jy onthou dat dit 'n speletjie is.
Maar op 'n ernstige noot – ons elkeen het 'n droom in ons hart. Dalk het die droom wat jy gehad het toe jy jonger was, reeds waar geword. Dalk is dit nog "work in progress". Dalk het jy lankal moed opgegee.
Ongelukkig is dit so dat nie alle drome waar word nie. Ons kan nie almal vir die Springbokke uitdraf nie, ons kan nie almal die grootbaas by die werk wees nie. Ons kan nie almal beroemd raak nie. Ek het lankal vrede gemaak dat my droom oor miljoene in die bank, heel waarskynlik nie gaan waar word nie. Maar ek was bevoorreg genoeg om reeds sekere drome te bewaarheid – 'n plek of twee te sien wat ek graag wou, 'n gesin van my eie te hê.
Ek het die afgelope jaar ook beleef hoe my ma een van haar eie drome bewaarheid. Kort na haar aftrede as onderwyser, is haar debuutdigbundel gepubliseer. Dit het geduld, harde werk en deursettingsvermoë geverg. Maar daar is dit toe – haar pennevrug swart op wit, in haar en baie ander mense se hand. Dit het my opnuut geïnspireer en gemotiveer.
Ja, soms is daar drome in die lewe wat nie waar word nie. Dit gebeur met ons almal en dit is ongelukkig ook deel van die lewe. Maar baie van die drome wat in ons harte leef, kán bewaarheid word.
Wanneer laas het jy met God gepraat oor die drome in jou hart? Vra vir Hom om jou hand te vat en jou te help. En as jy hartseer is oor 'n droom wat aan skerwe lê, vind jou troos by die Here. Hy sal jou toevou in sy liefde, en dalk, wie weet, vind jy 'n nuwe droom in jou hart.
Gebed: Here, dankie dat drome ook deel is van hierdie wonderlike lewe. Help my om aan te hou droom oor my toekoms, maar help my ook om vrede te maak as ek teleurgesteld is. Amen.