God se droom vir jou - 23 April 2025
Charlea Grey
Ons weet dat wanneer mense lief is vir God, dan is alles wat met hulle gebeur, goed vir hulle. God laat dit so gebeur, want Hy het lank gelede besluit om hulle te kies om aan Hom te behoort. Romeine 8:28, Bybel vir almal
God het 'n plan met elkeen van ons se lewe – maar meer as dit, glo ek God het 'n droom vir ons elkeen. Meeste ouers het 'n droom vir sy of haar kind. En ek praat nou nie van die droom dat jou kind dalk 'n dokter of ingenieur gaan word of hulself op die verhoog gaan uitleef nie. Ek praat van die droom dat jou kind geluk gaan vind, vrede sal beleef, selfvertroue sal hê en die lewe sal kan aanpak met dit wat hulle nodig het.
Is dit dan nie maar dieselfde met ons Hemelse Vader nie?
Ek glo Hy het 'n droom vir ons elkeen. Hy wil hê ons moet floreer, die mooi van die lewe op Aarde beleef, vreugde vind en voluit kan leef. Ek glo sy droom vir ons elkeen is dat ons kan droom oor die dinge wat ons wil doen en bereik en dat ons dit sal najaag met Hom wat ons steeds lei en bystaan – net soos wat 'n ouer hul kind ook wil bystaan.
God se droom vir ons elkeen is mooi, ten spyte van die moeilikheid en teëspoed wat die lewe soms kan opdis.
Is dit nie wonderlik om te weet ons Vader droom saam met ons nie? Dat Hy die beste vir ons wil hê.
Ja, sy droom vir ons is ook om sy Naam hoog te hou, sy wil te doen en reg te lewe. Maar is dit nie juis omdat dié dinge, ons kan help om by geluk, vrede en selfvertroue uit te kom nie?
God se drome vir ons is mooi – ons kan elke dag daaraan vashou en met daai verwagting leef.
Gebed: Vader, dankie dat U ook 'n mooi droom vir my lewe het. Dankie dat U my ook wil help om daardie droom waar te maak. Amen.