God se droom vir ons wêreld – hoe kan ons help? - 24 April 2025
Charlea Grey
Die Here het vir julle gesê wat reg is. Hy wil net hê julle moet doen wat reg is. Julle moet Hom altyd dien. Julle moet gehoorsaam wees aan julle God. Miga 6:8, Bybel vir almal
Kom ek val sommer met die deur in die huis. 'n Vraag wat elkeen van ons onsself kan afvra is of ons bydra tot God se droom vir ons wêreld?
Ons wêreld is vol seer. Daar gebeur baie slegte dinge. Daar is ontsettend baie hartseer en soveel swaarkry. As jy, soos ek, gereeld nuus lees, sal jy baie bewus wees van die hartseer waardeur ons omring word. Ja, dis nie lekker nie, maar ek glo nie 'n mens moet jou kop in die sand steek nie.
Ek is seker die prentjie wat ons elke dag sien van hoe die lewe vir so baie mense lyk, is nie naastenby die idee en droom wat God vir ons wêreld gehad het nie.
Die vraag is wel, wat doen ek en jy om te help om dinge beter te maak? Hoe help ons die mense rondom ons wat swaarkry? Hoe dra ons by tot die gemeenskap waarin ons leef? Hoe behandel ons die mense wat ons paaie kruis – die belangrike mense, die vreemdelinge, selfs die mense van wie ons nie eintlik hou nie?
Probeer jy om dinge beter te maak, verhoudings te herstel, verligting te bring, te troos? Of hou jy jou goedheid net vir die mense van wie jy hou en met wie jy oor die weg kom? Die mense wat jy ken en met wie jy daagliks te doen kry?
God se kinders weet wat sy droom vir ons wêreld is. Ons weet dit, want dit staan alles in die Bybel. Dis nie 'n maklike taak nie, en dit sal seker nooit moontlik wees om al die swaarkry en seer te verlig nie. Maar dis tog ons plig om te probeer. Hoe kan ons dan nié help om daai droom te probeer bewaarheid nie?
Gebed: Here, gebruik my, help my om 'n verskil te maak in hierdie wêreld. Help my om deur alles wat ek doen, u lig te laat skyn, troos te bring, pyn te verlig en by te dra om ons Aarde 'n beter plek te maak. Amen.