Hou aan droom - 25 April 2025
Charlea Grey
God laat mense aanhou hoop. Ek bid dat Hy vir julle bly sal maak en dat Hy vir julle vrede sal gee, vir julle wat glo. Dan sal die Heilige Gees vir julle krag gee, en julle sal baie seker wees dat die dinge wat julle hoop, sal gebeur. Romeine 15:13, Bybel vir almal
Ons het aan die begin van die week stilgestaan by die feit dat sommige drome nie waar word nie. Dit beteken nie dat ons moet moed opgee of ophou droom nie. Dis goed om te droom en boonop gróót te droom.
Daar is 'n gesegde wat ek jare terug iewers teëgekom het, ek kan nie eers onthou waar nie, maar dit het so bietjie van 'n lewensleuse geraak: Mik vir die maan en val tussen die sterre.
As jy 'n kind van God is, is daar geen rede hoekom jy nie groot kan droom nie. Dinge wat dalk nie moontlik lyk nie, kan tog gebeur. Ons glo immers in wonderwerke, nie waar nie?
En ja, al speel jou droom nie presies uit soos wat die prentjie in jou kop gelyk het nie, kan jy dalk tussen die sterre beland en dan is dit steeds wonderlik en als te danke aan die feit dat jy groter as groot gedroom het.
Soms verg 'n droom net 'n eerste aksiepunt. Dalk moet jy net wegtrek met 'n idee, jou CV opdateer, met iemand gaan praat, al voel jy bang en selfbewus. Soms moet jy net die moed bymekaarskraap en vra. Of jy moet gewoon net by 'n lessenaar inskuif en begin.
Ons elkeen se drome lyk anders, ek besef dit. Dalk droom jy daarvan om die liefde van jou lewe te vind. Dalk droom jy van 'n baba of 'n beter werk, of jou eie onderneming. Dalk droom jy in die stadium van iets so eenvoudig soos stabiliteit by jou huis. Ja, daar is baie verskillende drome wat daar buite rondsweef.
Ons dien 'n wonderlike God, Hy is almagtig en Hy is langs ons elkeen. Het jy al vir Hom van jou droom vertel? Vra vir die wysheid en insig om te weet waar en hoe om te begin. Vra vir die deursettingvermoë en geduld wat nodig is om aan te hou. En onthou, drome kan baiekeer op verskillende maniere bewaarheid word.
En dán eet jy daai olifant. Een happie op 'n slag. Eendag, as jy terugkyk op jou lewe, gaan jy vir seker bly wees dat jy ten minste probeer het.
Gebed: Vader, baie dankie dat ek as u kind kan aanhou droom. Help my om my drome na te jaag. Gee vir my die leiding, die nodige insig en wysheid. Wys my waar om te begin, en wat die paadjie is wat U wil hê ek moet stap. Amen.